Om Moedersdag te vier het ek n storie om te vertel.
Gistermiddag kry ons n oproep dat die sekuriteitswag wat my ma-hulle se perseel deur die nag oppas gearresteer is oor hy met sy ou permit oppad werk toe was vir sy nagdiensskof.
Na vele oproepe word hy vrygelaat en huis toe gevat deur die polisie, maar ons is in n piekel want die perseel moet bewaak word deur die nag en die nagwag kan nie kom werk nie.
Met twee besighede op die perseel, is n donker erf sonder n flitslig wat patrollie loop, n groot risiko in hierdie area.
So besluit my ma en Oom Manie toe dat hulle gaan "uitkamp". Gewapen met n tweerigtingradio, pepersproei, my CO2 geweertjie en n paniekkoppie.
Geklee in 4 lae klere, swart mussies en serpe is die twee toe hier by die deur uit.
"Bravo 1. Bravo 1, staan by", skerts die tweerigtingradio hier langs my en my vingers is reeds op die paniekkoppie wat aan "Bravo 1" oorhandig is. So skrik ek byna my pankreas in n spasma in. "Ons gaan net die ganse oopmaak, so moenie skrik as jy iemand verby die kamer sien loop nie" se Beheer 1 met n giggel vol opgewondenheid in haar stem. My avontuurlustige Ma wag al lank vir haar "moment of fame" om potensiele kabel- en staaldiewe vas te trek.
Ek dink toe so ewe dat dit n uitstekende plan is. Behalwe vir die feit dat die twee ganse, genaamd Kerneels en Kerneels, n hengse lawaai kan opsit as daar gevaar is, het hulle nie n bang-haar, of altans bang-veer op hulle koppe nie. Sonder twyfel sal hulle vinnig n skelm kan vastrek en kan laat les opse.
My moeder se twee brawe "waghonde".
Ek sit angstig in die leefarea en koffie drink met die paniekkoppie stewig in my hand. Ore fyn gespits om gevaar te hoor voor die tweerigtingradio begin bler.
"Bravo 1, kom in". Beheer 1 nooi Bravo 1 oor vir koffie uit hul fles. "Bring asb net bekers saam, ons het ons bekers vergeet."
Nou dink ek by myself, hoe moet ek uit die huis kom met die twee "waghonde" wat regstaan om amok te maak? Ek en Regardt het alreeds vroeer gedurende die inperking n stel afgetrap met Kerneels en Kerneels en ek was braaf toe Regardt by was.
Beheer 1 kom toe deur om Bravo 1 verby die gevaar te vergesel.
Saam sit ons onder die volmaan en die sterre in die stikdonkerte en maak beurte om patrollie te stap deur die buite-erf. In die verte lag hienas en roep die wildehonde.
Ek en die potensiele skelms speel wegkruipertjie en om wegkruipertjie te speel was nog nooit goed vir my blaas nie.
Ek bevestig toe braaf dat ek self verby die besete ganse sal kom om in die huis in te gaan want veldpiepie is nie vir my nie.
Ek maak die hek oop en lig my ken op en stap soos n dapper muis verby die twee besetenes.
Nog voor ek my vierde tree kan voltooi word ek bestorm en ek het reeds die hek agter my toe gemaak.
My eerste reaksie was om te veg maar vinnig besluit ek dat ek die geveg beslis gaan verloor en ek slaan oor in n vlug-reaksie. Soos die vurige rugby-entoesias wat ek is, het ek al n paar dinge van systappies geleer maar die "waghonde" se verdediging is sterker as enige Springbok-opponent. Noodgedwonde, met my agterstewe ferm in n roosbos vasgevang, moet ek weer terugslaan na my vegvermoƫ. Hou die ganse net so ver moontlik weg van jou af, dink ek by myself en my regtervoet skiet instinktief op soos Daniel-son in Karate Kid. Ek het nerens om te gaan nie en moet hulle nou net afweer sodat ek nie verskeur word in die donkerte van die nag nie. Met my voet in die lug hou ek die een vyand op n afstand maar die tweede een se veggees is net so geesdriftig soos die eerste een.
Hierdie geveg gaan ek verloor!
Voor ek myself kon keer begin ek kliphard en instinktief na my Mamma roep! Ek roep angstig en kliphard. My verbouwereerde stem weergalm verby my Mamma, veel verder as die hienas se gelag en die wildehonde se roepe.
Oom Manie het gelukkig lank voor my krete besef daar is moeilikheid want die "waghonde" grom, blaas en blaf en Bravo 1 swets soos n matroos.
So word ek gered uit die kloue van die besetenes en oorleef om my verhaal te vertel.
Ek is redelik gevorderd in jare en steeds is my Mamma die een wat ek roep in lewensgevaarlike situasies. Lewe en dood!
Mamma, dankie dat ek die instinktiewe vertroue kan he dat jy sal antwoord as ek roep en dat jy altyd daar in my oomblikke van nood sal wees.
Ek is lief vir Mamma en ek sal nooit Mamma se avontuurlustigheid en durfgees vergeet nie. Dankie dat Mamma is wie Mamma is en dat ons lewe nooit eenvoudig en vervelig sal wees met Mamma nie.
Ek wou vir Mamma leibande vir Kerneels en Kerneels koop vir Moedersdag maar dit word nie beskou as "essential" nie.
Wys jou net hoe min weet die regering!
"Beheer 1, kom in. Gelukkige Moedersdag. Bravo 1, oor en uit"